Archive for the ‘Nuus’ Category

KINDERHOEKIE

In die Bybel se tyd het die mense diere gebruik as rydiere maar ook as pakdiere. Die kameel was vir die mense wat in die woestyd bly baie belangrik. Hulle het min sorg nodig en vreet woestynplante. Verder kan hulle drie tot vier weke sonder water klaarkom. As daar ‘n stofstorm was, het die kamele gaan lê en hulle neusgate toegemaak om die stof uit te hou.  Mense het gewoonlik in groepe gereis en ‘n groep kamele is ‘n karavaan genoem (lees 1 Konings 10:2).  Daar was groot saals op die kamele se rûe waarop hulle goed gepak was.

Esels of donkies is ook as pakdiere gebruik. Josef se broers het hul goed op donkies gelaai toe hulle Egipte toe is om koring te gaan koop (lees Genesis 42:26). Met die intog in Jerusalem het die Here ook op ‘n donkie gery (lees Matteus 21:5).

In die tyd voor koning Dawid geregeer het, het die Israeliete nie perde gebruik nie. Koning Salomo het perde van Egipte ingevoer en hy het groot perdestalle by Megiddo gehad (1 Konings 10:28).

KOOR-HERINNERINGE VAN 26-JAAR

Moedergemeente Kuilsrivier  is al vir baie jare geseënd met uiters bekwame en toegewyde orreliste. Ek was bevoorreg om as koorlid die laaste vyf orreliste te “beleef” – ʼn besonder sielsverrykende ervaring. Ek deel graag die volgende met jou.

Elke orrelis het sy/haar musiekkennis en ervaring op ‘n unieke manier uitgeleef en oorgedra.  Werklik toegewyde, knap en lojale mense wat die koor nooit in gevaar gestel het om dood te loop nie.  Dit maak ons een van die weinige gemeentes wat nog ʼn koor het!!

Jossie Nelson was aan die uittree toe ek begin sing het. Ek dink met heimwee aan staatmakers van daardie tyd soos Willie Malan en Charl Joubert, met sy mooi tenoor solostem. Hulle het ons reeds vooruitgegaan. ‘n Oud-koorlid, Adri Botha, se verbintenis met “juffrou Jossie“ se koor dateer terug na 1967 as st. 7 leerling! Die skuif van die orrel van vas teen die orrelpype tot waar dit vandag staan, was ‘n mylpaal waarvan ons steeds die vrugte pluk.

Ek dink aan Theresa Loock en Elbè Botha se kalmte en toewyding. Hulle het selfs hul mans en kinders betrek om ons geledere te versterk. Ek onthou opwindende  geleenthede waar ons saam met ander kore opgetree het – selfs in die Kaapse Stadsaal en saam met die Tygerbergse Kinderkoor! Ons was ook bevoorreg om musiek te kon sing wat Theresa en Kevin Kraak geskryf of verwerk het – ‘n spesiale talent wat hulle met ons gedeel het. Wat ‘n voorreg om ook vir Hennie Loock in die koor te hê! Ek kan nie nalaat om die bydra wat hy op sy beskeie manier lewer te noem nie. As koorlid is hy ‘n ware inspirasie.

Toe Kevin op 19-jarige ouderdom die leisels oorneem, het hy die musiek en sang tot nuwe hoogtes gevoer. Die eerste CD’s van die Adventsangdienste het die lig gesien. Selfs mense van buite ons gemeente het graag na sy orrelspel kom luister. Verbasend was die takt waarmee hy van die jongste tot die oudste koorlid kon hanteer.

Izanette van Schalkwyk se entoesiasme is aansteeklik. Op geestelike vlak versterk en bemoedig sy elke koorlid. Onwillekeurig onthou ek ook ds André de Ridder se liefde vir musiek en sy gereelde dank en waardering wat ons versterk het.

Deur al die jare het ek die koor as ‘n hegte familie ervaar. Soos dit in families gaan, het ons mekaar gedra en verdra – nie net gesing nie, maar ook mekaar se lief en leed gedeel.

Die herinneringe en emosies wat die musiek oor ‘n lang tydperk gebring het, word diep in die hart bewaar. Jossie, Theresa, Elbè, Kevin en Izanette, ek eer julle en sê DANKIE. Julle laat ‘n skat van kwaliteit musiek en sang na – tot eer van Sy Naam! Ons sal julle nooit vergeet nie.

 Tinda Wickens (Koorlid 1984 – 2010)

PASSIESPEL IN OBERAMMERGAU

Ek was bevoorreg om die passiespel in Oberammergau saam met my oupa op 15 Junie 2010 te kon bywoon. Alhoewel dit in Duits was, was daar ‘n Engelse handleiding waaruit ‘n mens die opvoering kon volg. Dit was vir my aangrypend om die opvoering van die verhaal van Jesus te volg, soos dit in die werklike lewe moes wees.

Die dorpie Oberammergau is geleë in die Suid-Westelike deel van Duitsland in die staat van Beiere. Die dorpie is omring met berge. Die “Swart Dood” het vanaf die 14de  tot die 18 de eeu deur Europa groot lewensverliese veroorsaak. Die siekte is deur vlooie oorgedra. Dit is veral versprei deur drosters en huursoldate van die oorlog van 1618 tot 1648. Hierdie “Swart Dood” het ook in 1632 die afgeleë vallei van Beiere bereik.

Sommige dorpies se inwoners is in geheel uitgewis deur hierdie siekte. Om die plaag af te weer, is “pesvure” dag en nag dwarsoor die landskap aan die gang gehou. Selfs peswagters is aangestel om die ingange tot die dorpe te bewaak. Kasper Schisler, ‘n boorling van Oberammergau het as ‘n dagloner elders gewerk.

Op die 3de Sondag van Oktober 1632 was daar ‘n groot kerkfees in Oberammergau. Hy wou graag by sy familie wees. Op die vooraand van die fees op 18 Oktober 1632, het hy die peswagters gefnuik en hom stilletjies by sy familie aangesluit. Hy was egter reeds met die pes besmet en is 3 dae later oorlede. Kort daarna is sy vrou en gesin ook dood.

Daar word beraam dat nagenoeg 21% van die inwonertal van 1560 daarna gesterf het. Toe die plaag in die somer van 1633 nog nie afgeneem het nie, het die dorps- en kerkleiers ‘n vergadering gehou. Daar was eenparig besluit om ‘n gelofte aan God te doen, dat daar elke 10 jaar ‘n opvoering gehou sal word om die lyding van Christus uit te beeld, indien God deur Sy genade die dorpie van die plaag sal bevry.

Hierdie belofte is op 27 Oktober 1633 in die kerk gehou en die eerste opvoering van die passiespel is in 1634 gehou.

Die Kronieke van die gemeenskap dui daarop dat daar sedert die uur van die gelofte geen verdere sterftes as gevolg van die plaag was nie, ondanks die feit dat baie in-woners duidelike tekens van die aanwesigheid van die plaag op hulle liggame getoon het.

In 1990 het 1 950 van die 5 082 inwoners aan die op-voering deelgeneem waarvan 1 530 volwasse en 420 kinders was. Daar was 98 opvoerings (vanjaar 103) wat 5 uur 30 minute duur. Daar is 4 800 sitplekke in die saal. Slegs mense wat in Oberammergau gebore is of minstens 20 jaar lank daar woon mag aan die passiespel deelneem. Boonop moet die deelnemers ‘n onbesproke lewenswandel hê. Ongetroude vroue moet  jonger as 35 wees om deel te neem. Die doel van die passiespel is om die mensdom te toon dat die kruisiging en opstanding van Jesus Christus die Ware Lewe bring om die verlossing moontlik te maak. Die voorstelling van Jesus se leiding word nie net as ‘n skouspel as sodanig opgevoer nie, maar wil ons ook herinner aan die Verlossing wat Hy deur sy lyding vir ons verwerf het. 

 

(Bron: Christine van Wyk Toere)

Ernst Lombard

 [Ernst is ‘n graad 9 leerder by Paul Roos Gimnasium.  -  Red.]

VERDRAAIDE WAARHEID

Baie van die televisie-predikers (die sg. tel-evangelists) van die VSA was skynheilige bedrieërs wat soms met groot sensasie aan die kaak gestel is. Maar daar is een van hulle op wie die sensasie-media nooit modder kon gooi nie: die eerbiedwaardige Billy Graham. Hierdie negentigjarige prediker het die volgende gebed vir sy nasie gebid:

 Hemelse Vader, ons kom vandag hier voor U om vergifnis te vra en om te soek na U rigting en leiding. Ons weet dat U Woord sê: ‘Weë aan hulle wat boosheid goed noem’, maar dit is presies wat ons gedoen het. Ons het ons geestelike balans verloor en ons waardes omgekeer. Ons het die armes uitgebuit en dit lotery genoem. Ons het luiheid beloon en dit welsyn genoem. Ons het ons ongebore kinders gedood en dit vrye keuse genoem. Ons het vrugafdrywers geskiet en dit geregverdig. Ons het nagelaat om ons kinders te dissiplineer en dit die bou van ‘n goeie selfbeeld genoem. Ons het mag misbruik en dit politiek genoem. Ons het ons naaste se besittings begeer en dit ambisie genoem. Ons het die lug met goddeloosheid en pornografie besoedel en dit vryheid van spraak genoem. Ons het die tradisionele waardes van ons voorvaders bespotlik gemaak en dit verligting genoem. Ondersoek ons, o God, en ken vandag ons harte. Reinig ons van alle sonde en bevry ons.Amen!   

 Al weet ons nie waarna dr Graham alles verwys nie, kan ons onsself afvra: Aan hoeveel van dit wat hy noem, is ons skuldig? Watter Bybelse waarhede het ons verdraai? Waarvoor kan ons dankbaar wees omdat ons nie die waarheid verdraai nie?

- Hennie Pretorius

KERSMARK

Met die skielike vertrek van Michelle Bester moes die kersmark afgestel word. Gelukkig het Theonie Heydenreich aangebied om die verantwoordelikheid vir die reëlings oor te neem.

Die Kersmark vind op 5 en 6 November plaas en daar gaan meer op handgemaakte items gefokus word wat vooraf gekeur gaan word.  Aansoeke vir ‘n geleentheid om produkte voor te lê vir keuring sluit op 25 Augustus en die keuring sal op Saterdag 28 Augustus plaasvind. Aansoekvorms is by die kerkkantoor beskikbaar of kontak Theonie vir meer  inligting by 084 580 3815.        E-pos:   jan@jankriel.co.za

KERKPLEIN WINKELSENTRUM

Jaarliks moet die direksie van die Winkelsentrum aan sy aandeelhouers (Kerkraad en gemeente) verslag doen oor sy werksaamhede deur middel van sy finansiële state.  Aangesien geen gemeentelid die jaarvergadering bygewoon het nie, het die kerkraad besluit dat die inligting aan die gemeente oorgedra moet word.

Die kerkraad het op 26 Augustus 1999 besluit om ‘n winkelsentrum op te rig, waarna ‘n direksie aangewys is wat die projek, ens. sou bestuur.  Voortvloeiend hieruit is ‘n artikel 21 maatskappy gestig genaamd Kuilsrivier Kerkplein Winkelsentrum. Op 1 Desember 2000 is die sentrum in gebruik geneem.

Slegs 3 persone was bereid om op die direksie te dien nl: dr Willie Cilliers as voorsitter, Bernard Ehlers (geoktrooïeerde rekenmeester) as sekretaris en André Roux (ingenieur) wat op daardie stadium voorsitter van die Finansies- en Eiendomskommissie was.  (Sedertdien is Willem Rossouw én skrywer van hierdie artikel ook in die direksie opgeneem.  Red.)

Hierdie 4 persone ontvang geen vergoeding vir hul werk ten opsigte van die winkelsentrum nie. Aanvanklik was die eersgenoemde 3 persone ook verantwoordelik vir die dag tot dag bestuur van die sentrum en verhuring. Gedurende Maart 2008 is ‘n maatskappy, BRM dienste, aangestel om al hierdie administratiewe pligte oor te neem.

Hierdie sentrum is ten volle verhuur, ten spyte daarvan dat ons geen Sondaghandel toelaat nie. Nedbank, Truworths en Mr Price het langtermyn kontrakte en die Zevenwacht Mall het geen invloed op hierdie besighede nie.

Die Direksie vergader maandeliks en hul verslae word via die diensterrein Finansies aan die kerkraad voorgelê.  Gedurende die vorige finansiële jaar (2009 – 2010) is daar R340 000 van die sentrum onttrek om die gemeente se boeke te laat klop.  In die huidige boekjaar is daar weer R300 000 ingesluit om die gemeente se verpligtinge na te kom.

Dit blyk dat as dit nie vir die sentrum was nie, die gemeente in ‘n groot finansiële verknorsing sou gewees het. Ons moet dankbaar wees vir die kerkraad wat 11 jaar gelede die versiendheid gehad het om ten spyte van heelwat kritiek steeds voort te gaan met die projek. Op die oomblik word alle verpligtinge van die winkelsentrum nagekom. Die munisipale waarde van die sentrum word op R10 000 000 bereken. (Oorspronklike verband R4 854 902.) Die opbrengs van die verkoop van die Sontiestraat pastorie is teen die lening van die sentrum inbetaal.  Die sentrum sal einde Augustus klaar betaal wees! Daar is slegs een skuld-eiser, nl die kerkraad (en gemeente) wat alleeneienaar van die sentrum is. Die sentrum sal nou begin met terugbetalings aan die kerkraad.

Die geouditeerde finansiële state lê ter insae by die kerkkantoor en enigeen kan die vrymoedigheid neem om dit te bestudeer.

Die kerkraad wil sy hoë waardering uitspreek teenoor dr Willie Cilliers,  Bernard Ehlers en Andre Roux vir hul onbaatsugtige dienste oor die afgelope 11 jaar om die sentrum op ‘n gesonde finansiële basis te bestuur  -  al was dit soms in baie moeilike omstandighede gedoen.

 

Willem Rossouw

VOORSITTER VAN DIE KERKRAAD

NG KERK DEEL VAN GEMEENSKAP

Alles het glad verloop met die pasafgelope samesmelting van twee ekumeniese liggame in die gereformeerde wêreld: die Wêreldbond van Gereformeerde Kerke wat uit 1875 en die Gereformeerde Ekumeniese Raad wat uit 1946 dateer.

Nadat die nodige besluite op Vrydag 18 Junie 2010 geneem is, het die nuwe Raad, die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke (WGGK) vanaf 18 tot 26 Junie in Grand Rapids, Michigan in die VSA vergader.

Die nuwe gemeenskap verteenwoordig na raming meer as 80 miljoen lidmate van meer as 200 kerke uit meer as 100 lande.

Gereformeerde, Presbiteriaanse, Kongregasionalistiese en Waldensiese kerke skaar hulle by die WGGK (Engels: World Communion of Reformed Churches, of WCRC).

Belydenisbasis, maar nie superkerk

Die basis van die WGGK is die Bybel as Woord van God. Volgens sy grondwet word sy gereformeerde identiteit uitgedruk in die ekumeniese belydenisse van die vroeë kerk. Belydenisse soos die Apostolicum of 12 artikels, die “historiese” belydenisse van die Reformasie, soos die Heidelbergse Kategismus en die lewe en getuienis van sy lidkerke.

Die WGGK wil egter nie ’n superkerk en sy Raad nie ’n supersinode wees nie. As ’n forum van kerke wil dit wel God se gawe van eenheid aan sy kerk bevestig deur die wedersydse erkenning van die sakramente, lidmaatskap, kanselwisseling, bediening en getuienis.

Geestelike gemeenskap en samewerking tussen lidkerke moet ook nie net tussen sekere ampte of groepe in die kerk wees nie. Die WGGK wil die vrou, die jeug, die diakonaat en lidmate in die algemeen by die gemeenskap en gesamentlike werksaamhede betrek.

- Diensterrein: Leer en Aktuele Sake

SOP-EN-BROODJIE AAND

16 Julie 2010 – ’n Baie belangrike datum.  Dis ons orrel se 100ste verjaardag en ……. sop en broodjie-aand!!
Toegewikkel in jasse en serpe, sommiges al bewend (van die koue), het ons opgedaag, want die koue hou ons nie sommer meer weg nie.

Die glasie sjerrie (of druiwesap) was ’n goeie begin, maar ons kon byna nie wag dat Gieliana Fourie eers almal hartlik verwelkom en Arrie ons kortliks van die Jubelfees van 21 – 22 Augustus vertel nie, want die geure van die soppe het geadverteer en daardie brode!  Mensig!

Daar is geëet en gekuier dat die biesies bewe en so ongemerk was dit ook al wat later nog gebewe het.  Wys jou net – sop en brood maak liggaam en hart warm.

Ons kleiner maatjies was maar min vanjaar, maar toe kon elkeen van hulle baie gelukkig en ewe kordaat met ’n krokonoster of skilpad in die arms huis toe gaan.

Baie dankie dames vir nog ’n feesmaal met liefde voorgesit.  ’n Vet drukkie vir elkeen van julle en ook elkeen wat op een of ander manier handjie bygesit het.  Aan elkeen wat daar was:  Dit was lekker om ’n broodjie saam met julle te breek.                            - Wilna Kruger  

OP-OFFER-PROJEK

Gedurende die lydenstyd het ons  gefokus op Christus se offer vir ons.

Ons het opnuut ons lewens aan die Here gewy, deur sekere aktiwiteite op te offer en die tyd aan te wend vir aanbidding, voorbidding en oor-denking.

Ons het afstand gedoen van “ekstras” en die waarde daarvan in die blikkies gegooi.

So het ons ‘n Geestelike verdie-ping ervaar en was ons deur die Heilige Gees gelei om Jesus Christus toegewyd te dien. Terselfdertyd kan ons ‘n bydrae lewer aan instansies en mense wat die geld nodig het.

Alle blikkies is nou ingevorder.  Die wonderlike bedrag van R15 680.94 is op hierdie manier aan die Here ge-offer.

Die fondse sal aangewend word vir ons uitreike,  Ons sal, nadat ons finaal besluit het oor die verdeling dit in die Sondag aankondigings meedeel.

Misionêre Diakonaat  sê aan almal wat toegewyd hieraan deelgeneem het, baie dankie vir hulle deelname.  Ons gaan binnekort tydens ’n erediens spesiale terugvoer gee. 

 

Sandra Meyer
Oudl. Missionêre Diakonaat

ONS VIER FEES

ORREL 100 JAAR OUD

Vroeër hierdie jaar is ‘n Ad hoc-komitee gevorm onder voorsitterskap van ons orreliste, dr Izanette van Schalkwyk, om hierdie fees te organiseer. Die entoesiasme en toewyding onder lede van die komitee is werklik iets besonders.

Die fees bestaan uit ‘n Saterdag-dinee op 21 Augustus en ‘n Sondag Jubelfees op 22 Augustus 2010.  Albei hierdie geleenthede gaan iets besonders wees en lidmate word aangeraai om betyds in die kerk te wees die Sondag-oggend.  [Die kaartjies vir die dinee het, soos soetkoek, binne 2 weke uitverkoop!  Red.]

Die orrel is gebou deur Norman & Beard, volgens die ontwerp en spesifikasies van die bekende orrelbouers van Kaapstad, mnre Cooper and Gill.  Ongelukkig was die bykans nuwe orrel reeds in Mei 1908 “uit die orde”.  Twee jaar later, in 1910, is besluit dat die orrel afgebreek moes word en tenders gevra word vir die herstel van die afsonderlike stukke van die orrel.  Op 16 Julie 1910 is die orrel feestelik ingewy deur die Kaapstadse orrelis, WC Cooper.  Van die orrelstukke was Morandi se Overture in D-majeur;  Hollins se Berceuse en Berthold Touss se Allegretto Gra-zioso, afgewissel met liedere van Mendelssohn deur die tenoor TM Phillips.

 ‘n Feesdiens-blad met die volledige geskiedenis van die orrel en insette van vorige orreliste word tans saamgestel vir die Sondag Jubelfees.

GJ de Villiers
Lid van die Ad hoc-komitee